SA Damme in hande van privaat eienaars dalk onteien

Die regering gaan dit dalk oorweeg om private damme in Suid-Afrika te onteien.

Dit omdat water ’n nasionale bate is wat nodig is om ongelykhede, armoede en werkloosheid uit te skakel en nie ’n duur gebruikersitem moet wees nie, het Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, Donderdag op ’n mediakonferensie by die parlement gesê.

Mokonyane het gesê daar is tans 5 125 geregistreerde damme in Suid-Afrika.

Hiervan word sowat 700 deur staatsdepartemente en munisipaliteite beheer, terwyl sowat 4 000 onder die beheer van die landbousektor en 330 onder die beheer van die mynbousektor en nywerhede is.

Volgens haar verstaan sy dat eiendomsreg deur die Grondwet gewaarborg word, “maar dat wanneer water as nasionale bate nodig is om ongelykhede, armoede en werkloosheid uit te skakel, moet jy as regering jou beroep op art.25 van die Grondwet wat voorsiening maak vir onteiening in nasionale belang”, het Mokonyane gesê.

Volgens haar werk ’n regspan op die oomblik saam met die departement van justisie om te kyk hoe water gereguleer en beheer kan word sodat dit nie ’n duur gebruikersartikel word nie.

“Die water in Suid-Afrika kan nie in die hande van ’n mnr. Swanepoel wees nie. Dit kan nie wees nie. Water is ’n bron wat gedeel moet word.”

Daarom moet die lisensievoorwaardes van private damme hersien word.

Sy het gesê gegewe die land se historiese ontwikkeling is damme vir sekere doelwitte gebou, soos byvoorbeeld vir landbouproduksie. Daar moet volgens haar wegbeweeg word van damme vir ’n doelwit.

Mokonyane het gesê die nasionale regering bly die bewaarder van water in Suid-Afrika.

“Dit maak nie sin dat jy ’n Jozinidam in KwaZulu-Natal het, maar gemeenskappe wat daar was voordat die dam gebou is, het steeds nie toegang daartoe nie. Ons moet dus die lisensievoorwaardes van die dam hersien.

“Die staat het ’n grondwetlike verpligting waarin watervoorsiening aan mense ’n prioriteit is.”

Mokonyane het gesê die nasionale regering bly die bewaarder van water in Suid-Afrika.

Sy het erkenning gegee aan die “honderde goeie mans en vroue” in die landbousektor wat na vore gekom het om te help met hoe die water wat hulle het, ten beste gebruik kan word.

Des Van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake wat saam met Mokonyane die mediakonferensie toegespreek het, het herhaal dat planne onderweg is om die droogte tot ’n nasionale ramp te verklaar. Dié proses sal volgens hom op of voor 14 Februarie gefinaliseer word.

Op ’n vraag oor die koste-implikasies van dié stap, het Van Rooyen verduidelik dat geld jaarliks uit die nasionale begroting bewillig word vir rampe. Voorlopige aanduidings is dat die provinsiale toelaag vir rampbestuur in die 2018-19-boekjaar R130 miljoen is, terwyl die munisipale toelaag vir rampbestuur R370 miljoen is.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!