SAPD topbestuur erken dat sommige polisiebeamptes nie kan lees of skryf

LP’s was Donderdag “verstom” en “ontsteld” toe ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se topbestuur erken het dat sommige polisiebeamptes nie kan lees of skryf nie.

Dit het geblyk uit ’n antwoord van lt.genl. Fannie Masemola, nasionale adjunk-kommissaris van polisiëring, by die voorlegging van ’n nuwe regrukstruktuur vir die polisie aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie.

Ek is absoluut verstom. Polisiebeamptes is veronderstel om matriek te hê.

Dianne Kohler Barnard

Masemola het gereageer op ’n vraag van Angie Molebatsi, ANC-LP, oor wat gedoen word om die notaboeke van polisiebeamptes te monitor. Hy het gesê dat hy in Desember oor die Kerstyd op besoek aan sekere polisiekantore agtergekom het dat sommige beamptes nie kan lees of skryf nie.

Francois Beukman, komiteevoorsitter, het gevra of daar in 2018 polisiebeamptes is wat nie kan lees of skryf nie, terwyl Molebatsi daarop gewys het dat sy vir jare reeds daarop hamer dat die monitering van dié notaboeke uiters belangrik is. “Dit is die enigste manier waarop jy die prestasie van jou lede kan monitor,” het sy gesê.

Dianne Kohler Barnard, DA-LP, was geskok. “Ek is geskok dat ons lede het wat nie kan lees of skryf nie, terwyl miljoene rande aan geletterdheidsprogramme bestee word. Ek is absoluut verstom. Polisiebeamptes is veronderstel om matriek te hê.”

Ook Ahmed Shaik-Emam, NFP-LP, het gesê dit is “ontstellend” om van dié stand van sake te hoor, terwyl dr. Pieter Groenewald, leier van die VF+, wou weet of die polisie weet wie die lede is.

Lt.genl. Bonang Mgwenya, nasionale adjunk-kommissaris vir menslike hulpbronne, het op haar beurt gesê die polisie het ’n stelsel wat verseker dat diegene wat hulle by die polisie aansluit oor matriek beskik.

Zak Mbhele, DA-LP, het voorgestel dat ’n ontleding oor die omvang van die situasie gedoen moet word. “Dit is kommerwekkend – dit is hoe verklarings gekompromitteer word en waarom daar nie skuldigbevindings kan wees nie.”

Masemola het gesê hy het gevra dat ’n studie gedoen word om die omvang van die probleem te bepaal.

Lt.genl. Bonang Mgwenya, nasionale adjunk-kommissaris vir menslike hulpbronne, het op haar beurt gesê die polisie het ’n stelsel wat verseker dat diegene wat hulle by die polisie aansluit oor matriek beskik. “As daar enige (beamptes wat nie kan lees of skryf nie) is, sal dit lede wees wat aftrede nader. Ons sal ’n vaardigheidsoudit doen en seker maak dat hulle in die Abet-program kom,” het sy gesê.

Beukman het gevra dat die bestuur oor twee weke terugvoer aan die komitee gee.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!