Slegte nuus Suid-Afrikaners wyndrinkers – Tekort aan wyn gaan pryse laat opskiet

Suid-Afrikaanse wyndrinkers moet hulle voorberei dat wyn oor die volgende paar maande met tussen 8% en 11% duurder gaan word weens ’n dreigende wyntekort.

Dis die waarskuwing van Yvette van der Merwe, besturende direkteur van Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels (Sawis). Sy waarsku dat brandewyn óók duurder gaan word.

Eintlik moet wyn egter 30% duurder word – oftewel sowat R33 op ’n bottel wat nou R100 kos – as die plaaslike wynbedryf kop bo water wil hou, sê Rico Basson, besturende direkteur van die wynbedryfsliggaam VinPro.

Basson sê boere wat wyndruiwe verbou, is al jare lank onder erge finansiële druk.

“Tans verdien hulle gemiddeld ’n skamele 1%-opbrengs op hul beleggings, wat nie die vestiging van wingerde regverdig nie.”

Dit bring VinPro by die inkomste-aanpassing van 30% wat boere uit hul druiwe moet verdien – en wat eindelik neerslag kan vind in wynpryse.

Wynpryse het reeds oor die afgelope paar maande skerper as die algemene inflasiekoers gestyg. In Maart was wyn 6,8% duurder as ’n jaar gelede, teenoor die inflasiekoers van net 3,8%.

“Dis bemoedigend dat ons op kort termyn reeds bewyse sien van bogemiddelde prysaanpassings in die Suid-Afrikaanse kleinhandel in sekere kategorieë, en verdere aanpassings word op mediumtermyn verwag. In ’n omgewing van voorraadtekorte sowel as die moontlikheid om sowel in die plaaslike as uitvoermark te speel, is die realiteit dat die hoogste bieër gaan wen,” sê Basson.

VinPro het Dinsdag sy Wynoesverslag vir 2018 bekend gestel.

In syfers

  • Suid-Afrika is die agtste grootste wynprodusent ter wêreld en dra 4% tot globale produksie by.
  • Die wynbedryf dra R36 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by.
  • Dit het sowat 290 000 mense in diens.
  • 20 miljoen glase Suid-Afrikaanse wyn word elke dag wêreldwyd gedrink.

Daaruit blyk dit dat die Wes-Kaapse droogte ’n dramaties uitwerking op oeste gehad het. Basson waarsku dat die droogte gaan meebring dat ’n wyntekort ontstaan. Sowel die uitvoermark as die plaaslike wynmark sal geraak word.

Altesame 1,22 miljoen ton wyndruiwe is in die 2017-’18-oesjaar geoes – 15% minder as in die vorige oesjaar.

Dit gaan na verwagting 948 miljoen liter wyn oplewer, ook 15% minder as in die vorige oesjaar. (Dit sluit sap, konsentraat en wyn vir brandewyn ook in.)

Dis een van die kleinste oeste die afgelope tien jaar.

Daar is ook wêreldwyd ’n wyntekort, volgens VinPro, met produksie in Europa die laagste in 45 jaar. Spanje, Frankryk en Italië is getref deur ryp en droogte.

Alan Winde, die Wes-Kaapse minister vir ekonomiese geleenthede, sê in ’n verklaring dit was ’n “uitdagende seisoen vir alle boere”.

“Hierdie oes is ’n getuigskrif vir die harde werk en deursettingsvermoë van wynboere en al hul personeel.”

Verkope in vorige oesjaar

Verkope vir die 2016-’17-oesjaar het egter met 3,3% tot R24,7 miljard gestyg.

Hoewel meer as die helfte (50,1%) van alle Suid-Afrikaanse wyn uitgevoer word, beloop dit net sowat 35% van die totale inkomste. Dis omdat die meeste wyn in grootmaat uitgevoer word en nie gebotteleer nie.

Die volume wynuitvoer het met 4,7% tot 448 miljoen liter gestyg, maar die inkomste daaruit het met 3,1% tot R8,7 miljard gedaal.

Plaaslike wynverkope het met 2,4% tot 447 miljoen gestyg en die inkomste daaruit het met 7,2% tot R16 miljard gestyg.

As die twee syfers saamgevoeg word, beteken dit 895 miljoen liter wyn is verkoop, 3,5% meer as in 2016.

Wyngehalte

“Verbruikers kan uitsien na ’n paar baie goeie wyne uit die 2018-oes,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens..

Die droë, warm weer het gesonde druiwe en klein korrels met goeie intensiteit tot gevolg gehad, wat goeie wyn kan oplewer.

Nie net droogte se skuld

Die voortslepende Wes-Kaapse droogte het meegebring dat wingerde se drakrag gedaal het, maar minder grond is ook onder wingerd beplant. Baie Wes-Kaapse boere het die afgelope jare wingerde uitgepluk en sitrus of olywe geplant – bome wat ietwat meer droogtebestand is én wat ’n winsgewender oes oplewer.

VinPro raam dat 9% minder grond onder wingerd beplant is as tien jaar gelede.

Basson wys daarop dat die getal produsente van wyndruiwe die afgelope tien jaar (van 2007 tot 2017) met 25% getuimel het tot 3 029 boere. Die getal kelders het in dieselfde tyd net effens, met 3% tot 546 kelders, gedaal.

Meer as ’n derde van wyndruifprodusente boer teen ’n verlies.

“Die enigste manier om te verseker dat ons volhoubaar bly voorsien, is om hoër pryse vir ons wyne te vra. Sodoende het wyndruifprodusente voldoende finansies om nuwe wingerde te plant of ou wingerde te vervang en produksie op te stoot,” sê Basson. Hy wys ook daarop dat opleiding en opheffing van plaaswerkers en hul gemeenskappe versnel sal kan word as boere meer wins kan maak.

VinPro sê wyndruifboere het oor die afgelope paar jaar heelwat aanpassings gedoen om klimaatsverandering te trotseer. Meer droogtebestande kultivars word onder meer aangeplant en nuwe streke word vir wynbou ondersoek.

Suid-Afrika voer veral wyn uit na Brittanje, Duitsland, Nederland, Swede, Kanada en Japan, maar uitvoer na nuwe markte soos VSA, China en die res van Afrika toon ook groeipotensiaal, volgens Siobhan Thompson, bedryfshoof van Wines of South Africa (Wosa).

Van der Merwe waarsku dat brandewyn ook duurder gaan word.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!