So mors Metro’s water en elektrisiteit

Swak instandhouding en onwettige konneksies lei daartoe dat munisipaliteite jaarliks miljarde rande se water en elektrisiteit vermors.

Dít blyk uit die nasionale tesourie se jongste verslag oor die stand van plaaslike regerings se finansiële bestuur wat Maandag uitgereik is.

Die jongste data vir hulpbronne wat vermors is, is vir die 2015-’16-boekjaar.

In hierdie tydperk het die agt metropolitaanse munisipaliteite saam R10 miljard water en elektrisiteit vermors.

“Elektrisiteitsverliese het met R1,7 miljard tot R7,2 miljard toegeneem van die 2014-’15-boekjaar tot die 2015-’16-boekjaar,” lui die verslag.

Die grootste sondaar was Johannesburg, wat R2,2 miljard verloor het. Dié metro het ook R895,5 miljoen verloor weens die swak instandhouding van waterinfrastruktuur.

Dit is die nominale waardes vir die verliese en is dus nie vir inflasie sedertdien aangepas nie.

Die metropolitaanse munisipaliteit wat die minste gemors het, was Kaapstad.

Hy het R98,9 miljoen se water en R496,2 miljoen se elektrisiteit gemors.

Luidens die verslag begroot munisipaliteite te min vir herstelwerk, wat ’n bose kringloop veroorsaak omdat hulle dan ’n kleiner inkomste uit hierdie dienste invorder.

Luidens die verslag is dit duidelik dat wanneer ’n munisipaliteit se finansies onder druk kom, herstelwerk en die instandhouding van infrastruktuur die eerste ding is waaraan hy begin besnoei.

Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!