Springbok embleem – Springbok moet nóú geslag word sê Maarman van Burger koerant

Nooit was die tyd so ryp soos nou om die woord Springbok uit die leksikon van Suid-Afrikaanse rugby te verban nie. Die Springbok-embleem – as oorblyfsel van ’n voorheen neerdrukkende bestel – is meer ’n verdelende as versoenende simbool.

Johann Maarman eindredakteur van Die Burger maak die volgende uitlatings: Nelson Mandela mag dit goed bedoel het om teen die grein van die breë demokratiese beweging die Springbok­embleem te behou – juis toe dit al op die offeraltaar was en gereed om geslag te word – maar die Springbok as handelsmerk van Suid-Afrikaanse rugby word nog gesien as ’n simbool wat polariseer en uitsluit.

Ons het gebaai in die euforie van 1995 toe eenheid in rugby voorgehou is as ’n bloudruk van hoe die reënboognasie moet lyk. Dié nierassigheid was pure oëverblindery, maar ter wille van die nasionale versoeningsprojek is dit getjap as demokrasie. Nou weet ons dit was net ’n foefie.

Die Ashwin Willemse-sage het pertinent weer die Springbok opnuut op die radar geplaas toe hy na Nick Mallett en Naas Botha as apartheid-Springbokke verwys het.

Want dit is wat hulle was. Springbokke onder ’n vieslike en onmenslike bestel wat mense op ’n rassegrondslag verdeel het.

Voordat iemand die here Errol To­bias of Avril Williams gebruik as spelers wat desondanks apartheid Springbokke geword het, is hulle net soos Mallett en Botha apartheid-Springbokke.

Tobias, wat voorgehou word as die eerste gekleurde Springbok, het net soos Dawie de Villiers, Mannetjies Roux, Frik du Preez en die trosse apartheid-Springbokke hulle nie teen die bestes gemeet nie – daarvoor het apartheid gesorg. Hoe kan ’n mens ieder geval as die beste in die land gebrandmerk word as ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking op grond van hul velkleur uitgesluit is weens apartheidswette?

Miskien klink dit kras, maar Tobias is ’n rugby-askari. Iemand wat deur die apartheidmeesters gebruik is om legitimiteit aan ’n verfoeilike bestel te verleen. Dit slaan ’n mens dronk dat mense soos Tobias goed genoeg was om op ’n Saterdag saam met sy wit eweknieë te kan speel, maar dan agterna na sy huis in die bruin woongebied moet
terugkeer omdat hy ’n permit moes hê om in die wit woongebied te kon woon. En dan het jy nog boonop ook nie stemreg in jou geboorteland gehad nie.

Die Proteas-krieketspan het weggedoen met die Springbok-simbool en die wêreld het nie vergaan nie.

Die somme klop eenvoudig nie.

Laat ek dit onomwonde sê: Daar was baie beter as die Tobiasse van dié wêreld. Maar niemand het gehoor van ’n Norman Xhoxo, Bruno Mbula, Peter Mkata, Khaya Majola, Salie Fredericks, Cassiem Jabaar, Randy Marinus, Nazeem Toefy, Omar “Vleis” Da­niels, Daniel September, Makhaya Jack, Peter Jooste, Gabriel Noble en vele ander nie. Wit Suid-Afrika sal nie van hulle weet nie, want hulle was as tweedeklasburgers in hul eie land gereken. Maar hulle het beginsels gehad en het die mantra uitgeleef van geen normale sport in ’n abnormale samelewing nie. En steeds is in ons ’n abnormale samelewing. Nog lank is die speelveld nie gelyk nie. Ons sukkel dan nou nog om die voorheen ongelykhede uit te stryk.

Ja, ek hoor u nou al dat ons nie sport met politiek moet meng nie. Maar dis ’n absurde verweer, want politiek was en is alomteenwoordig in ons daaglikse bestaan. Dis soos om te sê ons moet die vleis uit die biefstuk haal. Politiek en sport kán nie geskei word nie.

Die Proteas-krieketspan het weggedoen met die Springbok-simbool en die wêreld het nie vergaan nie. Wat maak rugby so spesiaal dat ons nog aan ’n apartheidsimbool vasklou? Dus: Slag die Springbok en begrawe hom. Hoe gouer, hoe beter.

Hoe voel jul as lessers oor die uitlatings wat Maarman eindredakteur van Die Burger maak?


Enjoyed this post? Share it!