Stakings – Saftu dreig om die land “onregeerbaar” te maak Woensdag

Ondernemings kan landwyd Woensdag ontwrigting verwag wanneer een van Suid-Afrika se grootste vakverbonde en sy lede-vakbonde staak.

Die vakverbond Saftu het ’n landwye staking vir Woensdag uitgeroep om teen die hoër belasting op toegevoegde waarde (BTW) en die voorgestelde minimum loon te betoog.

Saftu, die vakverbond wat Zwelinzima Vavi, voorheen van Cosatu, op die been gebring het, dreig om die land “onregeerbaar” te maak.

Saftu sluit in die metaalwerkersvakbond Numsa, wat met nagenoeg 340 000 lede die grootste vakbond in die land is. Saftu as geheel verteenwoordig nagenoeg 800 000 mense.

Vavi het die minimum loon van R20 per uur of R3 500 per maand voorheen as ’n “hongerloon” beskryf. Die wet oor die minimum loon word nog in die parlement beding; dit sou aanvanklik op 1 Mei van krag word.

Saftu is ook ongelukkig oor die BTW-styging van 14% tot 15% op 1 April.

Saftu het reeds op 12 April ’n memorandum aan die parlement oorhandig.

Die staking is gebring ingevolge ’n art. 77-aansoek by Nedlac, die liggaam waar die sake- en arbeidsektor en regering saam oor arbeidsake onderhandel. So ’n aansoek ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge laat ’n vakbond toe om oor maatskaplik-ekonomiese toestande te staak indien ’n bemiddelde oplossing nie gevind word nie. Dis in teenstelling met die gewone reg om oor bedryfspesifieke sake soos lone te staak.

Vavi en Mac Chavalala, Saftu-president, spreek Maandag van 11:00 af ’n nuuskonferensie toe oor die roetes vir betogings.

Die beginsel van “geen werk, geen betaling” geld vir Woensdag se staking.

Saftu is Maandag een jaar oud.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!