Suid-Afrika is gedompel in chaos na landwye busstaking

Vandag is die tweede dag van ‘n landwye busstaking, wat gister reeds tot erge ontwrigting gelei het. Talle werkers kon nie by hulle werk uitkom nie.

Dit wil boonop voorkom of ander vakbonde hulle by die staking wil aansluit, wat die chaos kan vergroot. Sover was die staking betreklik vreedsaam, maar hoe lank dit so gaan bly, is onseker, aangesien stakings die neiging het om gewelddadig te word, met groot skade aan eiendom.

Intussen is motoriste verlig dat dikwels onpadwaardige busse met soms roekelose bestuurders vir ‘n rukkie van die paaie af is.

Gister moes die polisie ook in Naboomspruit ingryp toe strydende taxigroepe die dorp se hoofstraat versper het en daar na bewering selfs skote geklap het.

Gisteraand het geweld in Mahikeng in Noordwes uitgebreek toe die polisie opgetree het teen inwoners wat glo die premier, Supra Mahumapelo, se huis aan die brand wou steek. Die polisie en inwoners het deurentyd slaags geraak nadat gewelddadige betogings gister uitgebreek het.

En in Umhlanga is konstruksiewerk by die R4,2 miljard ontwikkeling deur ‘n groep opstokers ontwrig. Die ontwikkeling gaan rondom ‘n top klas winkelsentrum, hotel en luukse wonings.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!