Suid-Afrika se Staatsdiens en vakbonde verniel die land

Suid-Afrika sit vandag met ‘n staatsdiens wat die land leeg melk en ‘n versameling vakbonde. Saam swaai hulle die septer van wanfunksionering en uiteindelike ondergang.

Van die land se 283 munisipaliteite is een derde geheel wanfunksioneel en nog een derde is op die rand van die afgrond. Party stede – sê Nhlanhla Nene, minister van finansies – is op die rand van ondergang. Dis die plekke wat 80% van die land se groeikoers (van ‘n skamele 1%) oplewer.

In sy geheel bied die staatsdiens ‘n heenkome aan rofweg 2,7 miljoen “werkers” wat jaarliks saam sowat R140 miljard “verdien” as ‘n mens dié woorde ironies gebruik. Die staatsdiens se salarisse het die afgelope agt jaar met gemiddeld 10,3% gestyg, wat aansienlik meer is as die inflasiekoers.

In ‘n ekonomiese ondersoek in 2017 is gevind dat die salarisse van staatsdienswerkers 35% van die bruto nasionale produk eis. Meer as 70% hiervan word opgeslurp deur net drie departemente: polisie 42% (terwyl misdaad hand oor hand toeneem), die weermag 18% (maar daar is nie brandstof vir vliegtuie en vlootskepe nie) en korrektiewe dienste 10% (waar tronkontsnappings en korrupsie al meer algemeen raak).

Daar is geen beheer en toerekenbaarheid vir die salarisbetalings nie en geen skakel na uitkomste, produktiwiteit of effektiwiteit nie. Dis onbekend hoeveel van die staatsdiensbegroting aan konsultante bestee word wat die ampsdraers van raad en strategie moet bedien omdat hulle nie self daartoe in staat is nie.

Die nasionale skatkis het burokrate die afgelope jaar 11,5% van die land se bruto nasionale produk (BNP) inbetaal, wat beteken ons staatsdiens is van die duurste ter wêreld. Vir die Russiese Federasie is dit 3,7% van sy BNP en vir Brasilië om en by 5%.

Pravin Gordan (finansies) het erken dat die toename in salarisse vir die staatsdiens oor die afgelope vier jaar meer was as vir al die ander staatsuitgawes. Suid-Afrika bestee meer van sy BNP per grootte van die bevolking as Brittanje, die VSA en die meerderheid van die lande suid van die Sahara.

Vakbonde se kniehalter

Een van die ander groot probleme in die land is die mag van die vakbonde, bestaande uit ‘n werkersklas wat deur ‘n ryk elite gelei word wat net in hul eie belang optree en nie in die belang van hul lede, die land of die ekonomiese omgewing nie. Daarbenewens word vakbondleiers nie demokraties verkies nie.

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) is waarskynlik die grootste sondaar onder die vakbonde. In ’n exposé deur ’n koerant met aansien is in 2014 gerapporteer dat Sadou nie net skoolhoofposte te koop bied nie: Hy manipuleer ook die onderwysstelsel van provinsies en kontroleer aanstellings, pensioene en verplasings vir so min as R6 500.

‘n Ondersoek deur die department van basiese onderwys (DBO) het dié aantygings ondersoek en in sy verslag is baie van die groot vrese oor hoe onderwys wanbestuur word, bevestig. Die ontstellendste bevinding was dat die DBO net die effektiewe beheer oor onderwys in een derde van die land se provinsies het.

Daar word weinig beheer gevoer oor onderwysers wat dae lank nie by die skool opdaag nie of hul volle voordele met die hulp van siektesertifikate verkry – soms vir maande en in sommige gevalle jare lank. Kaders word ondanks hul gebrek aan kwalifikasies aangestel, en aanstellings is ‘n mag waaroor ‘n vakbond nooit moet beskik nie.

Swak onderwys se bydrae

Die gebrek aan behoorlike onderwys aan staatskole is een van die grootste knelpunte. Volgens statistieke Suid-Afrika leef sowat 30,4 miljoen (uit ‘n bevolking van ongeveer 55 miljoen) in armoede. Mense wat in uiterste armoede leef, het van 11 miljoen in 2011 gestyg tot 13,8 miljoen in 2015.

Ongeletterde en swak geskoolde swart kinders en vroue in landelike gebiede soos die Oos-Kaap en Limpopo, is die kwesbaarste. Vier vyfdes van die plattelandse bevolking leef onder die armoedegrens – byna dubbel soveel as in stedelike gebiede.

Die kans is baie goed dat kinders wat in armoede gebore word, nooit daaruit sal ontsnap nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het al gepraat van die inkrimping van die parlement se 35 ministeries en hy is sekerlik maar alte bewus van hierdie feite en die magte waarmee vakbonde soos Sadou en Kie. beklee word. Maar met sy plankdun meerderheid in die uiters verdeelde ANC is sy hande ook maar bra afgekap. Sy stemvee hou nie van ongewilde besluite wat in landsbelang geneem word nie, want almal strewe net eie belang na.

Suid-Afrika bevind hom baie in dieselfde posisie as Brittanje 50 jaar gelede, toe die Ystervrou, die Konserwatiewe premier Margaret Thatcher, uiteindelik gedwing is om die land se vakbonde in die bek te ruk.

Die Arbeidersregering is in 1976 gekonfronteer met ‘n fiskale afgrond en moes staatsbesteding aan bande lê, wat hom in konflik met die vakbonde gebring en tot sy val gelei het.

Thatcher het gelewer wat sy met haar bewindsaanvaarding belowe het. Die vakbonde is in die bek geruk en Brittanje het ekonomies sterk herstel. Dit het tot enorme sosiale verdeeldheid gelei en die land het later weer groot ekonomiese pyne gely. Haar verweer was dat die staat terminaal siek was toe sy oorgeneem het.

Die Suid-Afrikaanse situasie sal seker eers verander nadat die land oor die afgrond gestort het, homself optel en ‘n pad uit gevind het. Die alternatief is, in die woorde wat oudpres. John Vorster in ‘n ander verband gebruik het, “to ghastly to contemplate.“


Enjoyed this post? Share it!