Taxi betrap met ‘lisensieskyfie’ van koerantpapier – Beslis net in Suid-Afrika

Van ver af lyk dit soos die ware Jacob. Maar van nader kon Johannesburgse metropolisiebeamptes skaars glo wat hulle op twee minibustaxi’s se windskerms sien: lisensieskyfies wat van lugtyd-koopbewyse en koerante gemaak is.

Die beamptes het daarop afgekom toe hulle ’n padblokkade by die hoek van Malibongwe- en Pres. Fouché-rylaan in Randburg beman het, sê supt. Edna Mamonyane, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie (JMPD).

“Toe die beamptes die taxi’s ondersoek, het een ’n lisensieskyf van koerantpapier opgehad en een ’n skyfie wat van lugtyd-koopbewyse gemaak is,” sê Mamonyane.

Taxi betrap met ‘lisensieskyfie’ van koerantpapier - Beslis net in Suid-Afrika

Volgens haar is dit ’n nuwe ding. Sy sê in die verlede het hulle al afgekom op ’n afskrif van ’n ander lisensieskyfie wat op die windskerm geplak is.

“Van ver af sal jy dink dis ’n regte lisensieskyf,” sê Mamonyane.

Sy sê die twee taxi’s is geskut.

“Die vervalste lisensieskyfies is bewys dat daar fout is met die voertuie.”

Die twee taxibestuurders is beboet weens die bestuur van ’n ongelisensieerde en onpadwaardige voertuig.

Theo Malele, woordvoerder van die National Taxi Alliance, sê hy praat nie die onwettige lisensieskyfies goed nie, maar beweer dat JMPD-beamptes nie altyd onskuldig is nie. “Sommige JMPD-beamptes verwyder taxibestuurders se lisensieskyfies nadat hulle ’n rusie gehad het oor die omkoopgeld wat hulle wil hê. Dan ry die taxi’s sonder lisensieskyfies. Dit is druk wat hulle daartoe dryf om die wet oor te tree.”

Malele sê dit is noodsaaklik dat die probleem van bo af opgelos word sodat taxibestuurders die regte ding doen.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!