TLU SA spreek kommer uit oor gepeutery met grondwaardasies

TLU SA het met kommer kennis geneem van die grondwaardeerder-generaal, Christopher Gavor, se stelling dat die waardeerdersbedryf “minder kapitalisties” moet wees.

Mnr. Louis Meintjes, TLU SA se president, sê Gavor skuld die land ‘n beter verduidelik as dit. “Of daar is ‘n stelsel van kapitalisme, of daar is ‘n stelsel van sosialisme. Sosialistiese kapitalisme bestaan nie, en as die waardeerdersbedryf getransformeer moet word om minder kapitalisties te wees, beteken dit dat hy meer sosialisties of self kommunisties moet word, en dit is helde rooi ligte vir die land.”

‘n Heel nuwe stel kriteria word voorgestel om eiendom te waardeer, en volgens Gavor kan ‘n eiendom selfs vir nul rand waardeer word, wat beteken dat die land se grondwet dan nie eens verander hoef te word nie.

“Dit is absoluut ongehoord dat enige grond op nul gewaardeer kan word nie. Die grond is gekoop, en die staat het dit erken deur ‘n titelakte, met die koopprys daarin vermeld, aan die eienaar uit te reik. Waarde kan dalk verminder as gevolg van bepaalde faktore, maar enige grond hou ‘n intrensieke waarde.

“Ons besef egter dat hier weer ‘n subtiele politiekery aan die gang is, en die regering en sy instellings moet begin eerlik word, ook teenoor die buiteland, as hulle gaan beleggersgeld soek. Beleggers gaan hulle geld verloor as die regering op hierdie pad voortgaan,” waarsku mnr. Meintjes.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!