Tonge los oor ‘manne in oranje’ wat vangwa stoot

Die polisie in die Vrystaat het mense aan die gons nadat ’n foto waarop vyf mans ’n polisievangwa deur Bloemfontein se strate stoot, op Facebook en Twitter gedeel is.

Drie van die mans is in oranje oorpakke geklee en hoewel dit op die foto onduidelik is of die oorpakke die departement van korrektiewe dienste se kenteken daarop het, het die meeste sosialemediagebruikers reeds (verkeerdelik) besluit dat dit gevangenes is wat uit die vangwa moes klim om dit te help stoot.

Op Fikile Mbalula, minister van polisie, se Twitter-rekening (@MbalulaFikile Min of Police: Mr Fearfokkol) het sommige hul totale ongeloof oor die situasie uitgespreek, terwyl ander meen die mans behoort ten minste vir vervroegde parool in aanmerking te kom vir hul hulp aan die polisie.

Brig. Motantsi Makhele, kommunikasiehoof van die polisie in die Vrystaat, sê talle van die provinsie se polisievoertuie word tans deur private ondernemings, wat gekontrakteer is, versien en dat hierdie spesifieke voertuig op die betrokke dag by ’n onderneming in Nelson Mandela-rylaan (waar die foto geneem is) versien is.

“Ongelukkig is die gehalte van die foto te swak om werklik te sien wat op daardie spesifieke oomblik gebeur. Wat werklik gebeur het, is dat personeel van die onderneming die voertuig vir ’n toetsrit geneem het en dit toe gaan staan het. Ander personeel, geklee in die oranje uniforms van die onderneming, het nader gehardloop om te help om die voertuig terug by die sentrum ’n paar meter van daar te kry.”

Makhele gee die versekering dat geen polisiebeampte of gevangene by die voorval betrokke was nie.

@TsHiMo_Leo wou van die minister self weet of hy hiervan bewus is.

@K_Seepamore het aan die minister getwiet hy sien die polisie het ’n lekker tyd saam met die gevangenes in Bloemfontein.

@xjstevie wou weet of dit die gewone prosedure vir oefening vir gevangenes is, en of dit die manier is waarop die polisie brandstof bespaar.

Vroeër vandeesmaand is berig dat speurders in die Vrystaat glo nie met polisievoertuie mag ry om sake te ondersoek nie, weens ’n brandstoftekort. Die polisie het bevestig daar is ’n brandstoftekort, maar het ontken dat speurders gestrand is omdat hulle nie brandstof het om te ry nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!