Tsk-tsk-tsk…Liberalis, Johan Pienaar van Stellenbosch vra nou beskerming

Die liberalis, Johan Pienaar van Stellenbosch, het gister ‘n tussentydse beskermingsbevel in die Stellenbosch landdroshof gekry teen Steve Hofmeyr. Volgens hierdie bevel mag Hofmeyr hom nie direk of indirek kontak nie, en ook nie geweld teen hom aanhits of hom op die sosiale media dreig nie.

Dit volg nadat ‘n onbekende jong man verlede week die ou Suid-Afrikaanse vlag, waarop Pienaar mense genooi het om te trap, by die Woordfees op Stellenbosch gegryp het en ‘n nota agtergelaat het met die woorde: “Expropriated without compensation.”

Pienaar se klagte volg nadat Hofmeyr R1500 aangebied het vir enigiemand wat die vlag in die hande kry. Hofmeyr se naam is ook op die vlag geskryf en mense is genooi om daarop te trap. Dr Corne Mulder van die VF+ is ook aangekla nadat hy Pienaar op die sosiale media aangeraai het om sekuriteit te reël na sy “aandagsoekery.”

Pienaar sê hy voel bedreig omdat hy nou ander openbare optredes beplan met sy vlagprojek en Hofmeyr is ‘n man met ‘n geskiedenis van geweld. Of hy na die teekoppie-insident van destyds verwys, weet ons nie. Dat die waardige dr Mulder van die VF+ egter sou saamsweer om ‘n vlag van ‘n sypaadjie te steel, is ‘n gedagte wat ‘n mens wil laat uitbars van die lag.

Steve se reaksie op die hele bespotlikheid is presies wat Front Nasionaal van hom verwag, en self ook sou doen: Steur jou nie daaraan nie. ‘n Mens verwerdig jou nie om met sotlikheid om te gaan nie.

Pienaar het in ‘n onderhoud met Die Son (en dit bly vreemd dat dié skindervod blykbaar die liberaliste se gunsteling publikasie is) erken dat die reaksie op sy vlagtrappery oorweldigend negatief was.

Uiteindelik, vanuit alle hoeke beskou, wil dit eerder lyk asof Pienaar inderdaad sommer lus was om aandag te trek. Sy godslasterlike stellings op die sosiale media is maar net ‘n ander voorbeeld van oppervlakkige pogings om te skok. Waarskynlik het hy nie gedink dat die studente vir hom gaan ore aansit nie, en nou moet gekneusde ego gestreel word.

Tsk-tsk-tsk…


Enjoyed this post? Share it!