Verdagte van Donderdag se transitoroof aan Oos-Rand is ‘n polisieman

Een van die sewe mans wat vasgetrek is weens die gewaagde transitorooftog Donderdag in Boksburg aan die Oos-Rand, is ‘n polisieman, het News24 verneem.

Die bron het gesê dit “is bevestig dat dit ‘n polisieman is”.

Die verdagte se identiteit is bekend aan News24, maar kan nie bekend gemaak word totdat hy amptelik aangekla is nie.

Na verneem word, is hy deel van polisiespan in Sundra, Mpumalanga.

Moses Dlamini van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat het gesê: “Dis ‘n gewone polisie-ondersoek. Die meeste van die verdagtes is burgerlikes.”

‘n Polisiewoordvoerder, kapt. Mavela Masondo, kon nie bevestig dat ‘n polisieman vasgetrek is nie.

Nóg twee verdagtes is Donderdagnag in hegtenis geneem, het EWN berig.

Die kruising van Atlas- en Noordrandweg in Boksburg was Donderdag onder beleg toe minstens tien rowers op twee geldwaens toegeslaan het.

Motoriste het omgedraai en gevlug toe van die swaargewapende rowers op die straathoeke gaan staan en sonder meer skote afgevuur het.

Meer as 50 skote is getel op een van die talle video’s wat geskokte omstanders geneem het terwyl die skieters se makkers die geldwaens doelgerig met springstof oopgeskiet het.

“Ek kon nie glo wat gebeur nie. Die karre het probeer omdraai en wegjaag. Ek kon sien hoe die rowers op hulle skiet,” sê Galeen Naidoo, ’n rekenmeester by Renault Oos-Rand.

Sy het uit dié onderneming ’n selfoonvideo van die rooftog geneem. “Kollegas het geskreeu ek moet plat op die vloer gaan lê, maar ek wou die video neem omdat dit die polisie dalk kon help.”

Kapt. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, sê twee sekerheidswagte van die G4S-transitomaatskappy is beseer. Een is in die been geskiet en die ander een het kopbeserings opgedoen.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, sê paramedici het agt mense na die hospitaal geneem. Die polisie kon nog nie die aard en omvang van almal se beserings bekend maak nie.

Die rowers het pakke geld in ’n Land Rover, ’n Audi en ’n rooi Toyota Corolla gelaai en weggejaag. Die rowers het op die N12 in die rigting van Bedfordview gejaag.

Maar hulle het nie rekening gehou met ’n wakker lid van die Eloff-buurtwag wat hulle agternagesit en die polisie ontbied het nie.

“Die rowers het drie keer op ons buurtwaglid geskiet terwyl hy hulle teen ’n hoë spoed agternagesit het,” sê JP Coetzee, voorsitter van die buurtwag. Die buurtwaglid is nie beseer nie.

Sowat 30 km van die rooftoneel af het die rowers op die M2 na Denver afgedraai en by die George Goch-hostel ingehardloop. Die polisie was gou daar en vyf mans is in hegtenis geneem.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê ’n helikopter is ook gebruik om die rowers op te spoor. Die polisie het op drie voertuie, drie vuurwapens en van die gesteelde geld beslag gelê.

’n Bron in die Gautengse polisie het aan Netwerk24 gesê die ander rowers word meedoënloos gejag. “Ons sal nie rus voordat ons hulle gevang het nie.”

* Terwyl die polisie die toneel van die transitorooftog na leidrade deursoek het, het nóg ’n G4S-geldwa onder rowers deurgeloop, dié keer in Mpumalanga.

Luidens ’n verklaring van G4S het rowers ook ploftoestelle in die rooftog Donderdagmiddag naby Thulamahashe, noord van Mbombela, gebruik.

“Gelukkig het ons sekerheidswagte net ligte beserings in dié voorval opgedoen,” lui die verklaring.

Die rowers het met ’n onbekende bedrag geld gevlug.
Sers. Gerald Sedibe, polisiewoordvoerder, het by navraag geen kennis van die voorval gedra nie.

* Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het in ’n verklaring gesê dié komitee sal Woensdag ’n spesiale sitting hou oor die onlangse toename in transitorooftogte in die land.

“Die transitomaatskappye moet ook hard saam met die polisie werk om met strategieë vorendag te kom om die kwessie na behore te hanteer,” lui die verklaring.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!