Vermiste Psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni-klinieke kry nog Sassa-toelaag

Van die tientalle psigiatriese pasiënte wat steeds soek is nadat hulle uit Life Esidimeni-klinieke verskuif is, word 18 se Sassa-toelaag steeds maandeliks getrek.

Die Gautengse departement van gesondheid het verlede week gesê hy soek nog na 48 pasiënte nadat hy verlede jaar gesê het hy weet nie waar 59 van die voormalige Life Esidimeni-pasiënte is nie.

Dr. Gwen Ramokgopa, Gautengse LUR vir gesondheid, sê 11 pasiënte is intussen opgespoor.

Die res kon nie by hul familie, staatshospitale of nieregeringsorganisasies (NRO’s) opgespoor word nie.

Ramokgopa, wat verlede Woensdag voor die Life Esidimeni-bemiddelingsverhoor verskyn het, het gesê die departement moet rekenskap gee van elke pasiënt wat tydens die Gauteng Mental Health Marathon-projek uit Life Esidimeni verskuif is.

Presies hoeveel pasiënte nog vermis word, is egter onduidelik. Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het verlede Maandag 62 sake van vermiste persone by die polisie ingedien wat met dié saak verband hou.

Hy het ook ’n lys met die pasiënte se name uitgereik.

Thabo Masebe, woordvoerder van die Gautengse regering, het Maandag bevestig dié lys kom van die departement af. Hy sê egter daar is net 55 name op die lys (en dit sluit diegene in wat verlede week gevind is) en nie 62 nie.

Ramokgopa het in die verhoor gesê uit die 59 pasiënte is vier in NRO’s gekry. Sy is verlede Woensdagoggend in kennis gestel dat nog sewe pasiënte opgespoor is.

Netwerk24 het Sassa Woensdag gevra of van die vermiste pasiënte se toelae steeds getrek word. Sassa het bevestig dat 18 van die pasiënte op die lys se toelae uitbetaal word.

Dit is nie bekend wie die toelae trek nie.

Die departement se lys van die vermiste pasiënte sluit hul identiteitsnommers in.

Sassa sê sewe van die pasiënte op die lys se identiteitsnommers bestaan nie.

* By die Anchor Centre in Cullinan – wat gesluit is nadat pasiënte daar dood is – het 29 pasiënte maandeliks elkeen ’n Sassa-toelaag van R1 500 ontvang. Die laaste toelaag wat ontvang is, was in Maart 2017.

Die NRO is reeds in September 2016 gesluit.

Dorothy Franks, stigter van Anchor, het in Oktober aan oudadjunkhoofregter Dikgang Moseneke, wat die bemiddelingsverhoor lei, bevestig dat sy toelae van die oorlede pasiënte ontvang het.

Sy het gesê sy gebruik dit om werkers se salarisse te betaal.

Franks het gesê sy het ook daarmee pasiënte se klere, toiletware en kos gekoop.

Die hoof van die bedrogondersoekeenheid by Sassa kon nie vir kommentaar bereik word om te verduidelik hoe dit moontlik is dat Sassa die geld nog uitbetaal het nadat die pasiënte dood is nie.


Enjoyed this post? Share it!