Verskeie plaasaanvalle reg oor SA die naweek voorgekom

Sedert verlede week en oor die naweek het verskeie plaasaanvalle voorgekom, naby Vaalwater, Heidelberg en in die Vrystaat.

Twee aanvalle in die Vrystaat die afgelope naweek dien as bewys dat die regering faal om landelike veiligheid te verseker, sê Jan van Niekerk, VF Plus se leier in die Vrystaat.

Hy sê die populistiese diskoers oor grond in Suid-Afrika dra by tot die gewelddadige klimaat wat heers in landelike gebiede.

In twee afsonderlike aanvalle was inwoners die slagoffers van die herhalende leuens wat sommige politici oor grond, wit boere en wit-bevoorregting versprei.

In die een voorval is Marie Venter Vrydagaand wreedaardig vermoor. Sy is skynbaar erg aangerand en ook verkrag.

In die tweede voorval is Kobus en Marlise van Niekerk omstreeks 04:00 Sondagoggend op hul plaas in die Reitz-distrik aangeval. Marlise is met ‘n voorwerp oor die kop geslaan terwyl sy gedwing is om die kluis in hul huis oop te sluit.

Boere wat op die aanval gereageer het, het ‘n gesteelde Land Cruiser en verskeie selfone in Warden gevind. Die verdagtes word tans gesoek.

Met toenemende druk vanuit die buiteland kan die ANC-regering nie anders as om te erken dat plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad verklaar moet word nie en dienooreenkomstig optree deur spesialiseenhede op die been te bring om landelike veiligheid te verseker.

Foto: ter illustrasie – ‘n vroeëre aanvalstoneel

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!