VF Plus: Dieperliggende redes vir plaasaanvalle in Suid-Afrika

Die vlaag van plaasaanvalle in die Noord-Kaap laat die kollig val op gemoedere wat toenemend rondom grondbesit in Suid-Afrika opgejaag word, sê dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier van die VF Plus.

Hy sê terwyl beter polisiëring en toenemende paraatheid die probleem kan verlig, is daar in Suid-Afrika ‘n onderliggende probleem wat aandag verg.

“Dit skep ‘n klimaat waarbinne plaasaanvallers voel dat hulle regverdige vergelding pleeg.”

“Opvattings rondom grondbesit en die verwisseling daarvan word op geskiedkundig-verdagte wyse geskep. Skoolkinders word aan ‘n kurrikulum van haat blootgestel wat geen erkenning gee nie aan vreedsame grondaankope en wedersyds voordelige verdrae waardeur Afrikaners grond in Suid-Afrika bekom het.

“Die vraag ontstaan dan, en word deur onverantwoordelike politici verwoord, waarom gronddiewe vergoed moet word as die gesteelde goedere teruggeneem word. Dit skep ‘n klimaat waarbinne plaasaanvallers voel dat hulle regverdige vergelding pleeg.

“Afrikaners moet ook besef dat die oorgang van 1994 nie net ‘n bewindsverandering was nie, dit was ‘n rewolusie. Die rewolusie is destyds moontlik gemaak deur, onder meer, grondbesit te waarborg.

“Intussen het die nuwe bewindhebbers nie aan die verwagtings voldoen wat hulle self geskep het nie. Hulle het wel daarin geslaag om alle magshefbome in hul eie hande te konsentreer, wat beteken dat hulle minder geneig sal wees om ou ooreenkomste te eerbiedig.

“Die eerste fase van die rewolusie het Afrikaners van mag gestroop. Die fase om ons van grond te stroop, kry nou ook in die vreedsame Noord-Kaap momemtum. Dit is tyd om politieke naïewiteit af te lê en weer ‘n sin vir mag te ontwikkel,” sê Boshoff.

Deur: Dr. Wynand Boshoff/Vryheidsfront Plus


Enjoyed this post? Share it!