VF Plus wil Zuma aanvat oor sy gesteelde beeste

Die VF Plus het die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, versoek om beweringe van omvangryke bedrog en korrupsie te ondersoek waarby onder andere die premier van Noordwes, mnr. Supra Mahumapelo, na bewering betrokke is.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus se leier, sê beweringe wat die afgelope week in die media verskyn het oor beeste ter waarde van meer as ʼn miljoen rand wat met belastingbetalersgeld gekoop is en aan oud-president Jacob Zuma geskenk is, vorm ʼn klein deel van die totale beweerde bedrogspul. Die bewerings oor die beeste word tans deur die Valke ondersoek.

Uit inligting wat die VF Plus bekom het, blyk dit dat tenderbedrog die basis van die aangeleentheid vorm en die bewering is dat sekere tenders wat sedert 2014 van die departement van landbou in Noordwes aan die landbou-opleidingsmaatskappy AgriDelight toegeken is, tot die volgende beweerde korrupsie aanleiding gegee het:

Oud-pres. Zuma het glo op 29 Oktober 2016 25 Bonsmara-koeie en een bul van AgriDelight ontvang met ʼn waarde van sowat R525 000-00. Die beeste is glo by Nkandla afgelewer.

AgriDelight het glo fondse aan mnr. Mahumapelo verskaf om die franchise van twee MacDonalds in Mafikeng te verkry. Die franchises is glo op die naam van die premier se vrou.

AgriDelight het glo finansiering voorsien vir tien 34 ton-vragmotors vir mnr. Mahumapelo se vervoerbesigheid sowel as vir sy Hi-Q bande-onderneming in Mafikeng.
AgriDelight het na bewering seshonderd merinoskape op mnr. Mahumapelo se plaas in die Delareyville-distrik in Noordwes afgelewer.

Die LUR vir landbou in Noordwes, me. Manketsi Tlhape, het glo 60 Bonsmara-koeie en twee bulle van AgriDelight ontvang. AgriDelight het haar glo ook gehelp om die onderneming Romans Pizza in Mafikeng te koop en het na bewering vir ‘n kosmetiese operasie aan haar neus betaal.

Die destydse direkteur van Agri Besigheidsontwikkeling (2014/15) mnr. Thebe Muthusi het die Amarula-klub in Klerksdorp gekoop in ʼn transaksie wat AgriDelight glo gefinansier het. Hy het glo ook R3 miljoen gekry vir ‘n sitrusparsmasjien vir ‘n sitrusfabriek naby Koster.

AgriDelight het glo R25 miljoen ontvang vir ‘n lewensvatbaarheidstudie vir die oprigting van ‘n perde-renbaan in Rustenburg, soortgelyk aan die renbaan Greyville in Durban. Tot op datum het niks daarvan gekom nie.

Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!