Die voormalige Zimbabwiese presidentsvrou, Grace Mugabe, is glo sterwend en het moontlik net “dae” om te leef.
ZWnews.net berig regeringsbronne en ’n dokter het die nuus Sondagaand aan Spotlight Zimbabwe bekend gemaak.
Netwerk24 het vroeër berig pres. Emmerson Mnangagwa se regering het na bewering ’n straler vir Mugabe en haar man, Robert, gereël sodat hulle die naweek na Singapoer vir ’n mediese ondersoek kan vlieg.
Mugabe (53) sukkel sedert sy in 2015 ’n blindedermoperasie in Singapoer ondergaan het met haar gesondheid.
Volgens die Zimbabwe Independent was sy egter in Singapoer om behandeling vir kolonkanker te ontvang.
Mugabe en haar 94-jarige man sukkel die afgelope ruk albei met hul gesondheid en besoek Singapoer gereeld.
“Die waarheid word nie openlik verkondig nie,” het ’n dokter uit Hongkong aan Zimnews gesê. “Mev. Mugabe is ernstig siek en sy het min tyd oor.”
Volgens regeringsbronne probeer Mugabe dapper wees voor die kameras, maar sy is glo in erge pyn.
Deur: Netwerk 24