Vrou van Port-Elizabeth oorleef panga-aanval in slaapkamer

‘n Vrou van Port Elizabeth het Dinsdagoggend ’n aanval oorleef toe drie rowers haar in haar slaapkamer met ’n panga aangeval het.

Volgens die polisie het drie mans omstreeks 02:00 toegang tot die huis in Fallonweg in Kamma Creek verkry.

Hulle het glo deur ’n oop venster sonder diefwering geklim. Die vrou is met ’n panga op haar arms gekap voordat die rowers met selfone, ’n beursie en geld gevlug het.

Kapt. Johan Rheeder, polisiewoordvoerder, sê die vrou is in die hospitaal opgeneem. Sy het nog nie ’n verklaring afgelê nie.

Volgens die vrou se 33-jarige huismaat het hy angsgille vanuit die vrou se kamer gehoor en ondersoek gaan instel. Hy het die bebloede vrou daar aangetref. Die rowers was toe reeds weg.

Intussen het ’n buurman, wat verkies om nie sy naam te noem nie, ook ondersoek ingestel nadat sy honde hom wakker geblaf het. Hy was op sy huis se balkon toe die slagoffer se huismaat hom inlig dat daar by hulle ingebreek is en dat hy hulp nodig het. Die buurman het Atlas Security gebel, wat binne minute op die toneel was.

Monty Montgomery, bedryfshoof van Atlas, sê die slagoffer het diep snye aan haar onderarm gehad en sy is deur ’n ambulans na die hospitaal geneem.

Atlas se veiligheidswagte het die gebied gefynkam vir leidrade, maar kon nie die verdagtes opspoor nie.

Intussen het die buurman besef die rowers wou eers by sy huis inbreek, maar hulle is vermoedelik deur sy drie groot honde afgeskrik.

“In my grensheining is ’n netjiese gat oopgeknip, wat die inbrekers gemaklik toegang tot my erf gegee het.

“Ek vermoed hulle het tot voor by my motorhuis gekom, waar ons honde slaap. Gelukkig het my honde baie geblaf en ek vermoed die inbrekers het geskrik en toe oor ’n muur na die bure gespring,” sê die buurman.

Rheeder het Dinsdagmiddag gesê niemand is nog weens die voorval in hegtenis geneem nie.

Volgens ’n betroubare bron het die slagoffer Dinsdag ’n operasie ondergaan nadat die kaphoue aan haar arm glo van haar are beseer het.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!