Vrystaat ʼn sinkende skip onder die ANC-regering

Die voortdurende verval van Vrystaatste munisipaliteite, insluitende dié wat al vir ʼn geruime tyd onder provinsiale administrasie is, is ‘n aanduiding dat die Vrystaat ʼn sinkende skip onder die ANC-regering is wat op ʼn onvolhoubare koers voortstu.

Om die sinkende skip te red, wil die ANC-regering die alreeds buitensporige belastings en tariewe is wil verhoog.

Tammy Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, het na ʼn vergadering van die wetgewer se portefeuljekomitee oor samewerkende regering (COGTA) gesê dat die twee Vrystaatse munisipaliteite wat reeds onder administrasie geplaas is, nie veel beter vaar onder die provinsiale regering se ingryping nie. “Inteendeel dit wil voorkom of beide Mafube en Masilonyane slegter daaraan toe is. Die skade is onomkeerbaar groot en sal nooit onder ʼn regering wat sulke skrikwekkende agteruitgang in die eerste plek bewerkstellig het, kan herstel nie.

“Die departement van samewerkende regering (COGTA) en die plaaslike munisipaliteite van Mafube (Frankfort, Villiers, Tweeling, Cornelia), Masilonyana (Theunissen, Verkeerdevlei, Brandfort, Winburg) en Mantsopa (Ladybrand, Tweespruit, Excelsior, Hobhouse) het voor die komitee verskyn. Mafube en Masilonyana is reeds in 2017, ingevolge artikel 139 van die Grondwet, onder administrasie geplaas weens die nie-nakoming van sekere wetlike vereistes.

“Mafube en Masilonyana se uitstaande skuld aan Eskom beloop R57 miljoen en R46 miljoen onderskeidelik. Hulle skuld ook R87 miljoen en R21 miljoen aan water. Die munisipaliteite betaal ook nie derdeparty-salarisaftrekkings, soos mediese fonds en pensioenfondsbydraes oor nie.

“Die VF Plus het in 2017 ʼn klag by die Openbare Beskermer (OB) oor die wanbetaling van derdeparty-aftrekkings gelê omdat dit ʼn onwettige praktyk is en in verskeie Vrystaatse munisipaliteite, soos Mafube, Masilonyana, Mangaung (Bloemfontein, Dewetsdorp), Kopanong (Trompsburg), Nala (Bothaville), Mantsopa en Ngwathe (Parys) voorkom.

“In Mafube word werknemers se pensioenfondsbydraes nie aan die fondse oorbetaal nie, maar vir die munisipaliteit se bedryfsuitgawes aangewend. Dieselfde geld ook vir beide Mafube en Masilonyana se voorwaardelike toekennings wat hulle ontvang om die munisipale infrastruktuur in stand te hou en op te gradeer. Hierdie toekennings word of nie spandeer nie, weens swak beplanning en bestuur, of dit word vir bedryfsuitgawes – oor die algemeen vir salarisse – aangewend. Die gevolge is sigbaar vir alle inwoners, naamlik watertoevoer- en rioolstelsels wat ingee, met riool wat in die strate loop en sporadiese of geen watervoorsiening as gevolg daarvan.

“Dit is nie net die finansiële stand van die drie munisipaliteite wat voor die komitee verskyn het se finansies wat in ʼn jammerlike toestand is nie, maar al die munisipaliteite in die Vrystaat se finansies is in chaos.

“Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit wat Welkom, Ventersburg, Allanridge, Virginia, Odendaalsrus en Hennenman insluit, skuld Eskom en Sedibeng Water onderskeidelik R1,74 en R1,98 miljard. Die munisipaliteit se uitstaande krediteure het teen einde Desember 2017 nagenoeg R3,73 miljard beloop. Sedibeng Water het reeds gedreig om die watertoevoer na die munisipale gebied te staak weens wanbetaling en die munisipaliteit sukkel al ʼn geruime tyd met beurtkrag weens wanbetaling aan Eskom. Die dorpe gaan ook gebuk onder erge infrastruktuur- en diensleweringsprobleme, soos gehawende water- en rioolstelsels as gevolg van ʼn gebrek aan instandhouding en opgradering.

“Maluti-a-Phofung (Harrismith, Kestell en Phuthaditjhaba) se totale uitstaande skuld teen einde Desember 2017 het R2,71 miljard beloop. Die munisipaliteit sal ook glo binnekort onder artikel 139-administrasie geplaas word.

“Hierdie is slegs enkele voorbeeld van hoe die regering die Vrystaat gefaal.

“Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om te keer dat munisipaliteite belastings en tariewe buitensporig verhoog omdat die finansiële krisis as gevolg van wanbestuur en verkeerde prioriteite is.

“Dit is duidelik dat die ANC-regering hoegenaamd nie daartoe in staat is om die Vrystaat se munisipaliteite te regeer nie. Selfs hul ingrypingspogings faal klaaglik omdat hulle die probleme in die munisipaliteite waar hulle probeer ingryp in die eerste plek veroorsaak het. Dit is ʼn nuttelose oefening, wat die probleme bloot vererger,” sê Wessels.


Enjoyed this post? Share it!