Vrystaatse landdros in sy eie hof in hegtenis geneem

’n Vrystaatse landdros het van sy eie medisyne gekry toe hy in die beskuldigdebank beland het nadat hy in sy eie hof in hegtenis geneem is.

Landdros Mzukisi Ntloko moes Dinsdagoggend inderhaas sy hofverrigtinge in die landdroshof in Dealesville verdaag toe hy in die hofsaal vir ’n verkeersoortreding in hegtenis geneem is.

Hy is in ’n polisievangwa na die verkeershof in Bloemfontein gebring, waar hy skuld voor landdros Piet Bester beken het.

Ntloko het ’n skulderkenningsboete van R600 betaal nadat hy vroeër 133 km/h in ’n 100 km/h-sone gery het.

Na verneem word, het Ntloko nie vir ’n hofverskyning opgedaag nie en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is toe uitgereik.

Luidens die klagstaat het Ntloko die oortreding op 29 Desember 2016 op die Petrusburg-pad begaan. Hy is met R1 000 beboet, maar het nooit sy boete betaal nie.

Marli Olivier het aangekla.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!