“Ek verwerp die mes en rewolwer in die naam van die Here.” – So het Valerie Kriek (72) gebid toe sy en haar man, Wessel (73), deur vyf gewapende rowers op hul kleinhoewe buite Daniëlskuil in die Noord-Kaap aangeval is.
Een van die mans het met sy vinger Wessel se tong beseer.
Wessel het ook ’n gebreekte rib en gesigwonde opgedoen en seerplekke aan sy hand oorgehou.
’n Emosionele Valerie sê egter die Here het hulle deurentyd beskerm.
Een van die mans het Saterdagaand omstreeks 18:00 hul kombuis binnegestap waar sy kos gemaak het.
Hy was saam met ’n groep daar.
Haar man was besig om die ander vier na die egpaar se snoepwinkel te neem.
“Ons het eers gedink die mans wil kom koop.”
Toe dit baie stil by die winkel raak, het sy verby die man in die kombuis geloop om ondersoek in te stel.
Hy het haar met sy arms om die keel gegryp en na die agterdeur gesleep.
Intussen is haar man in die winkel omgestamp en een van die mans het op sy rug gespring.
Valerie sê die Here het haar in daardie stadium “baie rustig” gemaak.
“Ek het vir hom gesê: ‘Nee man, jy weet ouma het ’n rugprobleem’.”
In daardie stadium het sy nie geweet of haar man dalk reeds dood was nie.
Haar aanvaller het haar toe met die hulp van ’n makker opgetel en slaapkamer toe gedra.
“Eers wou hulle my op die vloer neergooi, en toe ek sê dat dit ongemaklik gaan wees, het hulle my op die bed neergesit.”
Die volgende oomblik het haar man ingehardloop gekom. Hulle is albei vasgebind.
Een van die mans het ’n rewolwer by hom gehad en die ander een ’n lang, skerp mes.
Hulle het op die egpaar geskree en geld geëis. Hulle het ook die hele vertrek deursoek.
Daarna het hulle die kos wat sy vroeër gemaak het, geëet en bevrore vleis geneem.
Die verdagtes het ook onder meer ’n skootrekenaar, ’n selfoon, ’n rewolwer, haar man se gehoorapparaat, diamantringe en sakke vol kontant wat in die snoepwinkel se kluis was, gevat en daarna met die Krieks se Mercedes-Benz gevlug.
“Die Mercedes is die naweek op Wrenchville (by Kuruman) gevind, maar niemand is tot dusver aangekeer nie,” sê kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.
Die Krieks is vir mediese behandeling na ’n dokter geneem.
Volgens Valerie wou die dokter “nie eens hul bloeddruk neem nie” omdat hulle in erge skok was.
Sy was reeds ’n maand voor die aanval angstig oor hul veiligheid nadat twee van hul honde, asook die honde van Theuns Kotzé, ’n boer van ’n buurplaas, vergiftig is.
“Ons het net die dooie honde buite gekry, maar niks het daarna gebeur nie.”
Niemand is nog aangekeer nie.
Enigiemand met inligting kan speurkonst. Alco du Plessis by 082 302 0380 bel.
Deur: Netwerk 24