Wanbesteding veroorsaak dat Vrystaat munisipaliteite R440 miljoen in rooi is

Die Vrystaatse provinsiale departement van openbare werke en infrastruktuur skuld die provinsie se munisipaliteite R440 miljoen aan onbetaalde rekenings vir water, elektrisiteit en erfbelasting op eiendom wat die departement besit en bestuur.

So sê Leona Kleynhans, DA-lid van die Vrystaatse wetgewer.

Sy sê dit is skandelik dat die departement nie sy munisipale rekenings betaal nie, terwyl munisipaliteite R6,2 miljard aan Eskom en R2 miljard aan waterrade skuld.

Struikelende munisipaliteite het nou ’n skuldinvorderings-veldtog onder die vaandel “Operasie Patala” begin en het stelselmatig begin om elektrisiteit- en watertoevoer te ontkoppel by gebruikers met groot skuld.

Kleynhans sê munisipaliteite sukkel onder ’n groot skuldlas, waarvan die departement een van die groot oortreders is.

“Drie Vrystaatse munisipaliteite is onder administrasie geplaas, terwyl ses ander deur voortdurende kragonderbrekings in die gesig gestaar word weens hul groot elektrisiteitsrekening aan Eskom.”

Amptenare in verskeie staatsdepartemente, insluitende kantore van die departement van onderwys, provinsiale verkeersdepartement, en skole is dikwels nie in staat om hul werk te doen nie, omdat die elektrisiteitstoevoer afgesny word. “Dienslewering word tot stilstand geruk omdat die departement nie sy finansies behoorlik bestuur en sy skuld betaal nie.”

Kleynhans sê dit is pateties en dit is die mense van die Vrystaat wat ly.

“Dit is net nog ’n voorbeeld van die algemene swak regering van die ANC, of dit nou op plaaslike, provinsiale of nasionale vlak is waar probleme veroorsaak word deur finansiële wanbestuur, korrupsie en swak diensverskaffing.”

Die provinsiale regering word wanbestuur, wat ’n ekstra belemmering is by al die rampe by die munisipaliteite wat wanbestuur word.

Sy gaan Dora Coetzee, LUR vir openbare werke, vra om seker te maak dat betalings gedoen sal word om grootmaatdienslewering aan staatsgeboue, die verkeersdepartement en skole te herstel.

Die DA vra lankal vir die departement om sy munisipale skuld te vereffen.

“In verlede jaar het die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, die departement van openbare werke opdrag gegee om sy skuld aan munisipaliteite te betaal. Soos wat gebeur met baie van die opdragte, word dit nie opgevolg nie omdat wanadministrasie en wanbestuur die ANC se manier is om die Vrystaat te regeer.

“Die provinsiale regering word wanbestuur, wat ’n ekstra belemmering is by al die rampe by die munisipaliteite wat wanbestuur word.”

Foto: Leona Kleynhans, DA-lid van die Vrystaatse wetgewer

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!