Wapens en ammunisie op skoolterein in Port Elizabeth gevind

Laerskoolkinders van KwaZakhele, Port Elizabeth, het Donderdagmiddag op wapens en ammunisie in ’n verlate toilet op die terrein afgekom.

Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, sê twee pistole, twee haelgewere en 150 patrone van verskillende kalibers is in verskeie plastieksakke in die toilet, wat as ’n stoorkamer vir vullis gebruik is, gevind.

“Leerlinge aan die Ntyatyambo Primary School het die ontdekking gemaak en die polisie het omstreeks 12:00 op die toneel opgedaag,” sê hy.

Beetge sê die leerlinge is nie betrokke in die voorval nie.

“Ek wil nie te veel sê nie, want ek mag nie, maar ons het reeds ’n verdagte geïdentifiseer en beoog om die persoon binnekort in hegtenis te neem,” sê hy.

Die vuurwapens gaan vir forensiese en ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of hulle moontlik in vorige misdade gebruik is. ’n Haelgeweer is reeds geïdentifiseer as een wat in Junie 2017 in Worcester gesteel is.

Genl.maj. Dawie Rabie, die bevelvoerder van die polisiekantore wat onder die Motherwell-gebied val, het die skoolhoof en personeel geloof vir hul vinnige optrede om die saak aan te meld.

“Hierdie vuurwapens is nou nie meer op straat nie en buite die hande van die misdadigers wat dit daar geplaas het. Die wapens is moontlik gebruik om misdade te pleeg en sou vermoedelik in toekomstige misdade gebruik word. Die omgewing waarin ons gemeenskap hul bevind, is nou veiliger,” sê Rabie.


Enjoyed this post? Share it!