Webwerf van Binnelandse sake gee onwetend ID en selnommers weg

Die webblad van die departement van binnelandse sake het waarskynlik onwetend die inligting van duisende gebruikers gelek.

Weens ’n gogga in hul stelsels het die departement van binnelandse sake se webwerf die besonderhede van moontlik duisende Suid-Afrikaners blootgelê.

My Broadband berig ’n leser het die nuusblad ingelig van ’n fout in ’n vorm op die departement se webwerf waar gebruikers hul besonderhede invul om die departement te kontak.

Op die departement se Ask Us-blad, wat intussen ontoeganklik is, moes gebruikers ’n aantal velde invul om ’n navraag na die departement te rig. Die doel was dat die departement jou dan later sou kontak.

Van die besonderhede wat gebruikers moes invul, sluit in hul naam, van, ID-nommer en selfoonnommer. Daar is ook vereis dat gebruikers ’n sogenaamde reCaptcha moes invul voordat hul navraag versend kon word.

’n reCaptcha is ’n Captcha-funksie (Completely Automated Public Turing test to tell Computers and Humans Apart) op talle webwerwe wat help keer dat vorms outomaties deur ’n rekenaar voltooi word. Dit is ’n manier om met redelike sekerheid te bepaal dat dit ’n mens is wat die vorm invul.

Gewoonlik word gebruikers gevra om ’n spesifieke woord met die hand in te vul, of om op ’n blokkie te klik wat verklaar “I am not a robot.”

Dié funksie was egter stukkend op die departement se webwerf, berig My Broadband. Dit het bygedra tot ’n fout in die webblad se kode, wat veroorsaak het dat die besonderhede van die vorige persoon steeds in die vorm verskyn sodra ’n nuwe gebruiker na die blad gaan.

Met ander woorde sou ’n gebruiker graag ’n navraag aan die departement wou rig, sou hy of sy die besonderhede van die persoon wat net voor hom ’n navraag gerig het, steeds op die blad kon sien.

Dit is nie duidelik hoeveel persone se privaat inligting op dié wyse kon gelek het nie.

Die departement het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie, maar die betrokke webblad is kort ná My Broadband se verslag verwyder en is steeds nie beskikbaar nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!