Weerlose bejaarde dame van 78 in Orkney verkrag en vermoor

Ann Erasmus (78) van Orkney in Noordwes se buurvrou het Maandag op haar lyk in haar stort afgekom nadat sy vermoedelik reeds die Saterdag vermoor en verkrag is.

Die buurvrou het haar Maandag omstreeks 13:00 gevind. Daar was ’n wit lap om haar nek en haar hande was agter haar rug vasgebind.

Sy is Saterdag laas gesien by die Spar in die dorp.

Toe haar dogter en kleindogter haar nie op haar selfoon kon bereik nie, het hulle Maandagmiddag die buurvrou gevra om by haar te gaan inloer.

“Sy was baie veiligheidsbewus en het altyd haar selfoon by haar gehad,” sê ao. Elize Kruger, ’n polisiewoordvoerder.

By die buurvrou se aankoms by haar huis was die veiligheidshek oop.

Sy het die huis ingegaan en gesien dis deurmekaar op die eetkamertafel en dat die TV weg is.

Die buurvrou het na haar geroep, maar sy het nie gereageer nie.

“Sy het deur die huis gestap en in die stort op haar afgekom, met ’n wit lap om haar nek en haar hande agter haar rug vasgebind,” sê Kruger.

“Daar word beweer dat sy ook verkrag is.”

Daar word vermoed dat sy al Saterdag vermoor is omdat sy nie soos oudergewoonte Sondagoggend die kerk oopgesluit het nie, sê Kruger.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.


Enjoyed this post? Share it!