Weerlose bejaarde man van Pretoria dood nadat hy op sy bed aangerand is met ysterpyp

’n 82-jarige man van Pretoria kon Saterdag nog ’n vriend om hulp bel nadat hy met ’n ysterpyp aangerand is.

Hy is egter later in die hospitaal dood weens die ernstige beserings aan sy kop en bolyf.

Kapt. Dave Miller, ’n polisiewoordvoerder, sê die man was die oggend uithuisig.

“Hy het later teruggekeer na sy huis in Garsfontein en op die bed gaan lê om te rus. Volgens ons voorlopige inligting blyk dit dat hy omstreeks 11:00 aangeval is.”

Die slagoffer se vrou was nie in daardie stadium tuis nie. Die erg beseerde man het nadat die aanvaller(s) weg was, ’n vriend gebel.

Dit is nog onbekend hoe die aanvaller(s) toegang tot die huis gekry het, maar die polisie se forensiese span sal die toneel fynkam vir enige leidrade.

“Hy het net vir die vriend gesê hy het geslaap en hy is aangeval, so dit klink asof hy op die bed deur die aanvaller verras is,” sê Miller.

Die vriend het na die man se huis gejaag en ’n ambulans ontbied.

Hy is na die Pretoria-Oos-hospitaal geneem, maar het later aan sy wonde beswyk.

Miller sê sover lyk dit asof daar een aanvaller was, maar die moontlikheid van meer is nie uitgesluit nie.

“Juweliersware en buitelandse valuta is geroof. Dit is nog onbekend hoe die aanvaller(s) toegang tot die huis gekry het, maar die polisie se forensiese span sal die toneel fynkam vir enige leidrade,” het Miller gesê.


Enjoyed this post? Share it!