Woensdag: 2 plaasaanvalle vind plaas ure uit mekaar

Daar was Woensdagoggend binne enkele ure van mekaar twee plaasaanvalle in Limpopo en Mpumalanga onderskeidelik.

’n Plaaswerker is omstreeks 04:30 op ’n plaas in die Kromdraai-gebied buite Emalahleni in Mpumalanga geskiet.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê gewapende mans het die plaaswerker, wie se naam nog nie bekend is nie, aangeval.

Hy is in sy een been geskiet en word in ’n plaaslike hospitaal behandel. Die aanvallers het gevlug.

In ’n ander voorval is ’n boer van Settlers in Limpopo net ná 06:00 Woensdagoggend deur drie gewapende mans in sy plaashuis oorval.

Die aanvallers het ’n haelgeweer en ’n 9 mm-pistool gesteel. Die boer is nie in die aanval beseer nie.

Heritage Protection Group (HPG), ’n misdaadbestrydingsorganisasie, is op die spoor van die drie mans.

Nog inligting volg later oor die voorvalle.


Enjoyed this post? Share it!