Zuma gaan net R667 ’n maand betaal vir Nkandla

Die Zuma-familie verloor dalk toegang tot drie luukse ampswonings, maar hul verblyf in die Nkandla-kompleks sal oudpres. Jacob Zuma ’n skamele R667 per maand kos.

Ingevolge ’n huurkontrak tussen Zuma en die Ingonyama-trust wat verlede jaar by die aktekantoor ge­registreer is, is die huurgeld vir Nkandla R8 000 per jaar.

Boonop hoef Zuma nie eiendomsbelasting te betaal nie omdat die trust se grond ingevolge ’n hofuitspraak as staatsgrond beskou word.

Die langtermynkontrak is geldig tot 31 Januarie 2051 en kan verleng word.

Die kontrak is geregistreer sodat Zuma ’n spesiale huislening by VBS Mutual Bank kon kry om sy skuld van R7,8 miljoen vir die verbeterings te betaal.

Hoewel Zuma al in 2016 beweer het hy het ’n verband uitgeneem vir die skuld, wys die dokumente by die aktekantoor die verband is eers in Mei verlede jaar geregistreer, en dat Zuma byna R800 000 meer geleen het as wat sy skuld was.

Zuma behou sy pensioen-voordele.

Dit is nie asof Zuma die ekstra geld nodig het om sy leefstyl te finansier nie; luidens die presidensie se jongste begroting het belastingbetalers sowat R500 miljoen per jaar betaal vir ­sy magdom personeellede, buitelandse reise (nagenoeg R51,9 miljoen), regskoste (sowat R5,2 miljoen), konsultante (nagenoeg R9,4 miljoen), rekenaardienste (sowat R39 miljoen), en vir spyseniering is R17,2 miljoen begroot.

Zuma het vier vroue en minstens 22 kinders.

Met dié dat Zuma bedank het eerder as om uitgeskop te word, behou hy sy pensioenvoordele – waaronder sy salaris wat in 2016-’17 R3,27 miljoen beloop het. Ingevolge die presidensiële handboek word sy jaarlikse pensioenverhoging saam met die salarisverhogings van openbare ampsdraers deur die parlement bepaal.

Hy en sy afhanklikes se mediese uitgawes word vir die res van hul ­
lewe deur belastingbetalers betaal.

Volgens Dave Steward, woordvoerder van oudpres. FW de Klerk, is ’n voormalige staatshoof ook geregtig op ’n ampsmotor, persoonlike veiligheid en veiligheid by sy woonplek, waarvan die aard en omvang deur die polisie vasgestel word.

’n Oudpresident is ook geregtig op ’n kantoor en ’n sekretaresse, asook gratis binnelandse vlugte op die SAL.

Dié voordele geld waarskynlik ook Zuma se vier vroue, aangesien daar ook voorsiening gemaak word vir byvoorbeeld vervoer en persoonlike assistente vir ’n oudpresident se gade.

In die aanloop tot Zuma se bedanking is bespiegel dat hy daarop aangedring het dat die staat vir enige moontlike toekomstige regskoste vir hom opdok. Geen inligting is egter hieroor bekend gemaak nie.

Die land se voormalige eerste familie het intussen ’n dramatiese metamorfose in hul openbare profiel ondergaan.

Tobeka Madiba-Zuma, wat haarself as dié presidentsvrou voorgehou het op sosiale media, het verlede Vrydag nog op Instagram geskryf “dinge gaan rof raak” in die stryd teen haar man.

’n Dag voordat Zuma bedank het, het Madiba-Zuma nog gespog met haar projekte as presidentsvrou.

’n Dag ná haar man se bedanking het sy haar sosiale-media-naam verander en haar stigting se webblad was teen die naweek dormant.

Madiba-Zuma het in 2012 vir haar ’n spoghuis in Durban-Noord gekoop en opgeknap.

Nog ’n presidentsvrou, Bongi Ngema, het ’n huis in Waterkloofrif, Pretoria, met ’n verband deur die Bank van Baroda gefinansier.

Dit sal na verwagting in die staatskapingskommissie ter sprake kom.

Zuma se oudste vrou, MaKhumalo, bly by Nkandla.

Sy vierde vrou, MaNtuli, is uit Nkandla geskop nadat Zuma glo vermoed het sy probeer hom vergiftig.

Haar prokureur het vroeër aan Rapport bevestig sy word steeds onderhou as ’n presidentsvrou.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!