Zuma se seuntjie Duduzane kruip weg vir Valke

Die Valke is op soek na Zuma jnr. na die klopjag op die Gupta huis in Saxonworld.

Atal Gupta is volgens berigte gevang terwyl hy probeer het om die land uit te vlug.

Intussen is joernaliste nie toegelaat in die Bloemfontein hof waar sewe verdagtes verskyn het op die Vrede melkplaas projek se aanklagte.

Peter Thabethe, die vorige departementshoof van die Vrystaatse landboudepartement, is Woensdag in Bloemfontein gearresteer en is een van die sewe aangeklaagdes.

Volgens die mediaverklaring van die polisie word 3 Indiese en een Sjinese verdagte nog gesoek maar dit blyk dat hul buite die grense van die RSA is.

Ajay Gupta is intussen as voortvlugtende verklaar nadat hy nie soos per ooreenkoms by die hof opgedaag het nie.

Mnr. Wouter Wessels, LPW van VF Plus, het in reaksie op die verdagtes se verskyning in die hof gesê dit is uiters kommerwekkend dat die staat nie die borgtog van die verdagtes teengestaan het nie en dat hulle op borgtog vrygelaat is. “Hierdie is mense wat ‘n vliegtuig op Waterklooflugmagbasis laat land het. Niks sal hulle stuit om land uit te vlug nie, met of sonder paspoorte.”

Mnr. Wessels sê die agt verdagtes maak slegs die oortjies van die seekoei uit. Betrokkenheid by die knoeiery met die Vrede-suiwelprojek strek veel verder as bloot hierdie agt.

“Daar is vele politieke hoofde, soos die huidige premier en sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, die voormalige LUR van landbou in die Vrystaat, Mosebenzi Zwane en feitlik die hele provinsiale kabinet wat al die LUR’e insluit, betrokke.

“Hierdie politieke leierskap van die ANC in die Vrystaat het vir jare die projek verdedig ten spyte van die opposisie en Ouditeur-Generaal (OG) se vermanings en hul het ‘n aktiewe rol gespeel in die belemmering van die komiteewerksaamhede van die wetgewer wat ondersoek na die projek ingestel het.

“Ons verwag dat hierdie agt, wat net so betrokke was by die korrupte bedrywighede van die Vrede-suiwelprojek tesame met hul politieke toutjietrekkers, so spoedig as moontlik tot verantwoording geroep word,” sê mnr. Wessels.

Duduzane Zuma en Ajay Gupta is beide voortvlugtiges. As iemand hulle opmerk, kontak die Valke.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!